Saturday, June 2, 2007

SPANWERK: DIE WET VAN DIE KOMPAS

Visie gee die spanlede rigting en selfvertroue !

Was jy al ooit ‘n lid van ‘n span wat skynbaar nooit vooruitgang maak nie?

Elke span het ‘n motiverende visie nodig om dit rigting te gee. ‘n Span sonder visie is op sy ergste doeloos! Ten beste is dit onderworpe aan die persoonlike (en soms selfsugtige) agendas van sy onderskeie spanmaats. Namate die agendas mekaar teenwerk, word die span se enigste dryfkrag gedreineer. Aan die ander kant word ‘n span wat visie aangryp, gefokus, aangewakker en vol vertroue. Die span weet waarheen dit gaan en hoekom dit daarheen gaan. Ek soek so ‘n span.

Weereens is die wet baie meer van toepassing op die leierskap van ‘n span maar onderling is dit die verantwoordelikheid van elke spanlid om te waak teen die gevare van visieloosheid.

‘n Span se visie moet in ooreenstemming wees met;

‘n Morele kompas (Kyk na bo)

‘n Suksesvolle span word selde indien ooit anders as volgens die strengste integriteitsandaarde opgebou. Daar is slegs een ware noord en as jou kompas in enige ander rigting wys as ware noord dan is jou span op pad in ‘n verkeerde rigting. ‘n Morele kompas bied integriteit aan die visie. Dit help spanlede om hul motiewe na te gaan en seker te maak dat hulle vir die regte redes swoeg. Dit bring verder geloofwaardigheid vir die leiers wat die visie daarstel – maar slegs as hulle die waardes wat die span veronderstel is om aan te gryp, uitleef. As hulle dit doen, vuur hulle die visie aan en hou dit aan die gang.

‘n Intuitiewe kompas ( Kyk na binne)

Waar integriteit die brandstof vir visie verskaf, bied hartstog die vuur. En die ware vuur van passie en oortuiging kom slegs van binne.

Visie moet diep in die spanleier se hart weerklink. Dan moet dit diep in die harte van spanlede wat gevra sal word om hard te werk om dit te verwesenlik, weerklink.

Dit bring die soort hitte wat diegene wat toegewy is aanvuur – en die wat nie toegewy is nie braai.

Braai jy of gaan jy gebraai word?

‘n Historiese kompas (kyk agtertoe)

“ Mense sal nie na die toekoms reik voordat hulle nie die verlede aangeraak het nie”. Moenie die heining verwyder voordat jy weet hoe dit daaragter is nie, Jy weet nooit of daar ‘n Bloubul daaragter is nie. ‘n Motiverende visie behoort op die verlede te bou, en dit nie te minag nie. Dit behoort positiewe gebruik te maak van enigiets wat deur die vorige spanne in die organisasie bygedra is. Gee erkenning aan hulle en skep ‘n verwagting dat erkenning gegee sal word aan die wat help aan die toekoms bou.




‘n Rigtingewende kompas (Kyk vorentoe)

“Wanneer ‘n mens vol vertroue in die rigting van sy drome beweeg, en probeer om die lewe wat hy hom voorgestel het te leef, sal hy sukses behaal bo die verwagting van die gewone ure”

Visie gee rigting aan die span. ‘n Deel van daardie rigting kom van ‘n gevoel van doelgerigtheid. ‘n Ander deel spruit voort uit doelwitte wat teikens aan die visie voorsien. ‘n Doelwit motiveer die span.

‘n Strategiese kompas (Kyk rond)

Enige doelwit sal nie bereik word indien iets nie gedoen word om dit te bereik nie. Dit is gewoonlik op die vlak waar strategiese beplanning faal. Visie sonder strategie is nie veel meer as ‘n dagdroom nie. Om teen die trappe op te kyk is nie genoeg nie, ons moet daarteen opklim.

Die waarde van ‘n strategie is dat dit ‘n werkswyse na die visie bring. Dit identifiseer middele en mobiliseer die lede van die span. Mense het meer nodig as inligting en motivering. Hulle moet opleiding kry oor wat om te doen om die visie ‘n werklikheid te laat word en hoe om daar te kom. ‘n Strategie bewys dit.

‘n Visionere kompas (kyk verby)

“Jy moet langafstand-visie hê om te keer dat jy deur kortafstand-mislukkings gefrustreer word”.

Die visie van die span moet verby huidige omstandighede en enige vanselfsprekende tekortkominge van huidige spanmaats kyk om die potensiaal van die span te sien. Visie wat werklik groot is , spreek tot dit wat spanlede kan word indien hulle waarlik hulle waardes uitleef en volgens hulle hoogste standaarde werk, aan.

My uitdaging aan jou is om in die bestek van die maande voor die kampioenskappe alles in jou vermoeë te doen om jou potensiaal te bereik. Wees vasberade, ondersoekend, doelgerig, en nederig.

Iemand het gesê dat slegs mense wat die onsigbare kan sien die onmoontlike kan doen.

SPANWERKGEDAGTE

As jy dit sien, kan jy dit aangryp!

No comments: